Limpopo (provinsie)
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Limpopo is 'n provinsie in Suid-Afrika. Die hoofstad is Pietersburg (Polokwane). Die provinsie was vroeër bekend as Noord-Transvaal. Die provinsie kry sy naam van die Limpopo-rivier wat die mees noordelike rivier in Suid-Afrika is en die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe vorm.
Een van die bekendste toeriste-aantrekking in Limpopo is die Kruger-wildtuin. In die Limpopo-provinsie is ook argeologiese fondse gevind, onder meer by Mapungubwe.
Totstandkoming: Limpopo, vroeër die Noordelike Provinsie, kry sy naam van die Limpoporivier, wat sy noordgrens vorm. Voor 1994 was hy bekend as Noord-Transvaal. Dit sluit ook die gebiede in van die destydse tuislande Venda en Lebowa.
Ander belangrike plekke is Makhado (dorp) (Louis Trichardt), Musina (Messina), Phalaborwa, Mokopane (Potgietersrus), Thabazimbi en Bela-Bela (Warmbad).
Inhoud |
[wysig] Demografie
- Bevolking (2001-sensus): 5 273 642.
- Tale: Noord-Sotho (52,1%), gevolg deur Tsonga (22,4%) en Venda (15,9%).
[wysig] Geografie
- Oppervlakte: Sowat 123 900 vk. km.
[wysig] Ligging en topografie
Limpopo word begrens deur Zimbabwe in die noorde, Botswana in die weste en Mosambiek in die ooste. Aan die suidekant van die provinsie lê die Suid-Afrikaanse provinsies Noordwes, Gauteng en Mpumalanga. Die Limpoporivier vorm Limpopo se noordelike grens met Botswana en Zimbabwe. Die provinsie het verskeie berggebiede, met die Waterberg-, Strydpoortberg- en Drakensbergreeks in die suide en die Soutpansbergreeks in die noorde. Die subtropiese noorde is bosveld met kretartbome, terwyl die weste meestal deur grasvlaktes gekenmerk word.
[wysig] Ekonomie
Landbou en minerale vorm saam die ruggraat van die ekonomie van Limpopo, terwyl die toerismebedryf ook ontwikkel word. Daar is groot kopermyne in Messina en Phalaborwa. Daarbenewens word minerale soos koper, asbes, steenkool, ystererts en platinum ontgin. In die subtropiese noorde word onder meer lemoene, piesangs, avokado's, mango's, papajas, koejawels en lietjies gekweek, en in die suide mielies, sonneblomme, katoen, druiwe en grondboontjies. Beesboedery word hoofsaaklik in die weste beoefen.