Porselein
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Porselein is 'n materiaal wat vir breekware, gereedskap en in die elektrotegniese nywerheid (as isolering) gebruik word. Dit word van kaolien (porseleinaarde), veldspaat en kwarts gemaak, nat op 'n pottebakkersskyf gevorm en twee keer in 'n oond gebrand. By die tweede keer word 'n glasuur aangebring. Harde porselein bevat 'n groter aandeel kaolien.
Inhoud |
[wysig] Geskiedenis
Die naam is waarskynlik van Italiaanse oorsprong; porcellana beteken "tekstuur van 'n klein varken". Die kuns van porseleinvervaardiging was reeds in die sewende eeu in Sjina bekend waar 'n harde en deurskynende porselein van kaolien (Sjinese klei) en sjinasteen by temperature van 1300° C gebrand is. Die bestanddele en metode is geheim gehou. Die Sjinese porseleinfabrieke beleef in die 17de en 18de eeu 'n bloeitydperk.
1708-09 ontdek die Duitse apteker en alchemis Johann Friedrich Böttger, (1672-1719) van Meissen, Sakse, die resep vir harde porselein. In sy fabriek vervaardig hy eers die rooi Böttger-porselein (eintlik 'n soort steengoed), later saam met die fisikus Ehrenfried Walther von Tschirnhaus (1651-1708) 'n soort harde porselein van wit kleur. Anders dan in Sjina bly die metode nie lank geheim nie, en werkers uit Böttger se fabriek is orals in Europa behulpsaam by die opbou van fabrieke.
In Engeland begin Josiah Spode in 1794 met die vervaardiging van die bone china-porselein wat daar nog steeds die gewildste soort porselein bly. Bone China bekoor met sy spierwitte kleur, sy hoogs deurskynende materiaal, sy skitterende bont versierings en sy fyn glans.
Danksy die gevorderde produksiemetodes wat vandag gebruiklik is word breekware nou deur middel van 'n sogenaamde monobrand vervaardig, dit wil sê die porselein word saam met sy versiering net een keer gebrand.
[wysig] Bekende Europese porseleinfabrieke
Bekende Europese porseleinfabrieke naas Meissen is Berlyn (waar vandag nog die fabriek van die Königliche Porzellan-Manufaktur bestaan), Frankenthal, Fürstenberg, Höchst, Ludwigsburg, Nymphenburg, Selb (Rosenthal), almal in Duitsland; Chantilly en Sèvres (albei in Frankryk), Delft (Nederland), Tournai (België), Royal Copenhagen (Denemarke), Capo di Monte (Italië), Plymouth en Bristol (Verenigde Koninkryk) en Lomonossov van St. Petersburg (Rusland) met sy beroemde blou versierings.
[wysig] Porseleinmerke en -versierings
Porseleinmerke aan die onderkant van die breekware is vanaf 1723 deur die KPM-fabriek van Meissen gebruik om die herkoms aan te toon. Hoewel ander fabrieke hierdie voorbeeld gevolg het, het die gebruik van merke nooit 'n standaard geword; soms het ook die porseleinskilders eie merke aangebring. Die porseleinskildery is of onder die glasuur en voor die tweede brand met metaalverwe van onder meer kobalt, chroom en goud aangebring; of na die brand en dan wel ook met ander verwe op die glasuur. Soms is honderde penseelstrepe nodig om die filigrane versierings aan te bring. Ofskoon die dekor porselein baie duur maak is daar eet-serviese soos die Deense Musselmalet wat reeds meer as 200 jaar in sy oorspronklike vorm aangebied word.
[wysig] Nuwe fatsoene
Min jong egpare beskou dit vandag nog as noodsaaklik om 'n porseleinservies in sy tradisionele vorm in hul uitset te hê. In hulle poging om nuwe markte te vind het die Europese vervaardigers van porselein suksesvolle eksperimente gewaag met nuwe fatsoene soos organiese en vierkantige vorms, en Asiaties-geïnspireerde serviese is nou ewe gewild soos cappuccinokoppies en skotteltjies wat jong mense by 'n partytjie gebruik. Die hardheid van porselein maak uiters dunne en elegante vorme moontlik, die materiaal kan dus by elke smaak en ontwerp aangepas word.
[wysig] Sien ook
- Continental China, breekware fabriek te Kaapstad, daar opgerig wanwee die Kaolien neerslae op skiereiland
Vir woordeboekinligting, sien die bladsy porselein op WikiWoordeboek |