Porta Nigra
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Porta Nigra (Latyn: Swart Poort) is 'n bekende gebou in die stad Trier (Duitsland). Dit is die grootste en bes bewaarde Romeinse stadspoort noord van die Alpe. Die poort, wat in die jaar 180 as die noordelike toegang tot die Romeinse stad Augusta Treverorum opgerig is, is deur die UNESCO in 1986 tot wêrelderfenisgebied verklaar.
Die Romeinse boumeesters het die enkele steenblokke, wat tot by ses ton weeg en uit die nabygeleë Kyllvallei afkomstig is, sonder pleister opmekaar gesit. Tot vandag toe word die stabiliteit van die Porta Nigra net deur sy eie gewig en met behulp van ysterhake verseker.
Tydens die middeleeue is diep gate in die stene gebeitel om die ysterhake te steel en in te smelt. Ook die naam Porta Nigra dagteken uit hierdie tydperk. Dit is afgelei van die donker kleur, wat die sandsteen as gevolg van verwering begin aanneem het.
Danksy die Griekse eremiet Simeon, wat hier vanaf 1028 'n vroom lewe gelei het, het die Porta Nigra bewaar gebly. Na sy dood in die jaar 1035 is die Porta omgebou na 'n kerk, wat ook sy bewaring verseker het. Napoléon I Bonaparte het die Romeinse gebou later van die meeste tekens van sy kerklike verlede bevry.