Wigskrif
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Wigskrif (of spykerskrif) is een van die vroegste bekende skryfwyses. Ontwikkel deur die Soemeriërs in die laat 4de millennium v.C., het spykerskrif begin as 'n stelsel van piktogramme. Mettertyd is die prentvoorstellings vereenvoudig of is in meer abstrakte vorm weergegee.
Wigskrif is geskryf op kleitablette, waarop simbole geteken is met 'n stomp riet wat 'n stilus genoem word. Die merke van die stilus was wigvormig, wat aanleiding gee tot die name wig- of spykerskrif.
Die Soemeriese skrif is aangepas vir die skryf van Akadies, Elamities, Hetities en Loewiaans, wat op hul beurt die Ou Persiese en Oegaritiese nasionale alfabette geïnspireer het.
Inhoud |
[wysig] Ontwikkeling
Wigvormige piktogramme is geteken op kleitablette in vertikale kolomme met 'n pen gemaak van 'n skerpgemaakte rietstilus. Hierdie twee ontwikkelinge het die die skryfproses versnel en vergemaklik: Mense het begin skryf van links na regs in horisontale rye (wat die piktogramme effektief 90 grade kloksgewys geroteer het), en 'n nuwe wigpuntstilus is gebruik wat in die klei gedruk is om die wigvormige tekens te verkry. Deur die relatiewe posisie van die tablet teenoor die stilus te te skuif kon die skrywer 'n enkele werktuig gebruik om 'n verskeidenheid drukvorms te maak.
Wigskriftablette is in oonde gebak om 'n permanente rekord te verkry, of hulle kon weer verwerk word as permanensie nie verlang is nie. Vele van die tablette wat deur argeoloë gevind is, is gepreserveer omdat hulle gebak is toe aanvallers die geboue afgebrand het waarin hulle gestoor is.
Wigskrif is uitgevind deur die Soemeriërs om die Soemeriese taal aan te teken, maar is daarna aangeneem deur die Akadiërs, Babiloniërs, Elamiete, Hetiete en Assiriërs om in hulle eie tale te skryf. Dit is wyd in Mesopotamië aangewend vir ongeveer 3000 jaar, alhoewel die lettergrepige aard van die skrif soos dit deur die Soemeriërs verfyn is, onintuïtief vir die Semitiese sprekers was. Hierdie feit het vele taalkenners laat soek na 'n beskawing wat die Babiloniese voorafgegaan het totdat die Soemeriese beskawing ontdek is.
Meeste latere aanpassings van Soemeriese wigskrif vir ander tale het ten minste sommige aspekte van die Soemeriese skrif bewaar. Geskrewe Akadies het fonetiese simbole ingesluit van die Soemeriese lettergreepversameling, benewens woordgramme wat al volkome woorde gelees is. Vele tekens van die skrif was polivalent, dit wil sê met beide lettergrepige en woordgrepige betekenis. Toe wigskrif vir die Hetitiese taal aangepas is, is 'n vlak van Akadiese woordgrafiese spellings bygevoeg, met die gevolg dat ons nie meer die uitsprake van vele Hetitiese woorde uit woordgramme kan uitwerk nie. Die kompleksiteit van die stelsel toon 'n ooreenkoms met klassieke Japannees, geskryf in 'n Sjinees-ontleende skrif; sommige van hierdie Sjinogramme is gebruik as woordgramme, ander as fonetiese karakters. Eietydse Japannese onderskei hierdie woordgramme grafies (kanji) van lettergrepige karakters (kana) maar behou andersins eenderse stelsels.
Die stelsel se kompleksiteit het 'n reeks vereenvoudigde weergawes tot gevolg gehad. Ou Persies is geskryf in 'n deelversameling van vereenvoudigde wigskrifkarakters wat eenvoudige semi-alfabetiese lettergreepversameling gelewer het met heelwat minder wigstrepe as die Assiriese voorbeeld, tesame met 'n handvol woordgramme vir dikwels herhaalde woorde soos "god" en "koning." Die Oegaritiese taal is geskryf deur die Oegaritiese alfabet te gebruik, wat 'n standaard Semitiese styl alfabet was ('n abjad), wat in wigskrif uitgevoer is.
Die gebruik van Aramees het tydens die Assiriese ryk wydverspreid geword en die Aramese alfabet het wigskrif mettertyd vervang. Die laaste bekende inskripsie in wigskrif, 'n sterrekundige teks, kom uit die jaar 75nC.
[wysig] Ontsyfering
Kennis van wigskrif was verlore tot 1835 toe Henry Rawlinson, 'n Britse weermagoffisier, sommige van die Behistun inskripsies op 'n kranslys te Behistun in Persië uitgelê het. Dit is gekerf tydens die termyn van Darius I van Persië (522 v.C.–486 v.C.) en het bestaan uit drie identiese tekste amptelike tale van die Persiese ryk: Ou Persies, Babilonies en Elamities. Die Behistun inskripsie was vir die ontsyfering van wigskrif van soortgelyke belang as die Rosetta Steen vir die ontsyfering van Egiptiese hiërogliewe.
Rawlinson het korrek aangeneem dat Ou Persies 'n lettergrepige skrif was en het dit suksesvol ontsyfer. Onafhanklik van hom het die Ierse Assirioloog Edward Hincks ook bygedra tot die ontsyfering. Na die Persies gedeelte vertaal is het Rawlinson en Hincks begin om die ander te ontsyfer. Hul poging is aansienlik vergemaklik deur Paul Émile Botta se ontdekking van die stad Ninivé in 1842. Tussen die skatte wat deur Botta ontdek is was die oorblyfsels van die groot biblioteek van Assurbanipal, 'n koningsargief wat tienduisende gebakte kleitablette bevat het waarop in wigskrif geskryf is.
Teen 1851 kon Hincks en Rawlinson 200 Babiloniese tekens lees. Daar het gou twee ander ontsyferaars by hulle aangesluit, 'n jong Duitsgebore skolier Julius Oppert en die veelsydige Britse Orientalis William Henry Fox Talbot. In 1857 het die vier manne in Londen ontmoet en deelgeneem aan die welbekende eksperiment om die akkuraatheid van hulle ontsyfering te toets.
Edwin Norris, die sekretaris van die Koninklike Asiatiese Vereniging het aan elk 'n kopie van 'n onlangs ontdekte inskripsie uit die regeringstermyn van Assiriese koning Tiglath-Pileser I gegee. 'n Jurie van kenners is aangestel om die uiteindelike vertalings te ondersoek en hul akkuraatheid na te gaan.
In alle essensiële punte was die vertalings wat deur die vier taalstudente gelewer is in noue ooreenstemming met mekaar. Daar was natuurlik klein verskille. Die onervare Talbot het 'n sekere getal foute begaan en Oppert se vertaling het 'n paar twyfelagtige Engelse verse bevat weens sy onvertroudheid met Engels. Hincks en Rawlinson se weergawes was egter ongeveer identies. Die jurie het verklaar dat hulle die vertalings aanvaar en ontsyfering van die Akadiese wigskrif is beskou as fait accompli.
[wysig] Transliterasie
Wigskrif het 'n spesifieke formaat vir transliterasie. Weens die skrif se polivalensie (lettergrepige en woordgrepige betekenis) kan transliterasie inligting byvoeg wat nie in die oorspronklike staan nie. Byvoorbeeld kan die teken DINGIR in 'n Hetiet-teks óf die Hetietlettergreep an aandui óf mag deel wees van 'n Akadiese frase wat die lettergreep il aandui, óf dit mag 'n Soemerogram wees wat die oorspronklike Soemeriese betekenis 'die skepper' aandui. (Die Soemeriese godheid Enki wat 'heer van die aarde' beteken het volgens die Soemeriese mitologie die eerste mens gemaak).
[wysig] Eksterne skakels
- Budge, E.A. Wigskrif Tekste van Babiloniese Tablette, &c. in die Britse Museum Londen, Harrison and Sons, 1896.
- Die Wigskrif Digitale Biblioteek Inisiatief. 'n Gemeenskaplike Projek van die Universiteit van Kalifornië te Los Angeles en die Max Planck Instituut vir Geskiedeniswetenskap.
- Die Wigskrif Stelsel