Perpignan
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Perpignan (Katalaans: Perpinyà, Spaans: Perpiñán) is die prefektuur of hoofstad van die Suid-Franse département Pyrénées-Orientales. Die stad met 105 000 inwoners (1999) lê aan die Golf van Lion van die Middellandse See, sowat 70 kilometer suid van Narbonne en 30 kilometer noord van die Spaanse grens.
Perpignan is die grootste stad en historiese sentrum van die Katalaanstalige gebied Roussillon (Katalaans: Rosselló), wat sooms ook Noord-Katalonië (Katalaans: Catalunya del Nord) genoem word. Talle historiese geboue, veral in die gotiese styl, dateer uit Perpignan se roemryke geskiedenis. Die stad is vandag 'n handelsentrum vir wyn en die plaaslike landbouprodukte en die setel van 'n universiteit.
[wysig] Geografie
Perpignan lê teen die Têtrivier in die sentrum van die Roussillon-vlakte, met die Corbières-streek as sy westelike, die Pireneë-bergreeks as sy suidelike en die Middellandse See as sy oostelike grens. Perpignan is die suidelikste van die groot stede van die metropolitaanse Frankryk.
[wysig] Geskiedenis
Perpignan ontstaan in die 10de eeu as 'n dorp digby die burg van die grawe van Roussillon en groei vinnig danksy die strategiese ligging tussen die Roussillon en Languedoc.
Perpignan is sedert die jaar 1172 'n besitting van die Aragonees-Katalaanse kroon en word eers in 1659 danksy die Pireneëverdrag by Frankryk ingelyf. Die reusagtige versterking van die Paleis van die Konings van Mallorca dateer uit die tydperk tussen 1276 en 1344, toe Perpignan as die hoofstad van die Koninkryk van Mallorca en 'n belangrike militêre basis dien.
[wysig] Demografie
Met die Spaanse Burgeroorlog in die dertigerjare van die 20ste eeu en die groot getalle vlugtelinge wat hulle in Frankryk kom vestig het, begin die demografiese struktuur van Perpignan duidelik verander. Ná die einde van die Algerië-oorlog in 1962 vestig ook talle Franse setlaars uit Noord-Afrika hulle in die stad, terwyl die laaste groot groep immigrante oorwegend van Noord-Afrikaans-Arabiese afkoms is.