Pretoria
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Pretoria | |
---|---|
Land: | Suid-Afrika |
Provinsie: | Gauteng |
Gestig in: | 1855 |
Koördinate: | 25°43' S, 28°14' O |
Oppervlakte: | 2 199 vk km |
Bevolking: | 1 884 046 (2005) |
Bevolkingsdigtheid: | 856 / km² |
Hoogte: | 1 370 m bo seespieël |
Skakelkode: | 012 |
Amptelike webwerf: | www.tshwane.gov.co.za |
Pretoria (Ndebele: iPitori) is die administratiewe hoofstad van Suid-Afrika en is geleë in die provinsie Gauteng. Dit is geleë ongeveer 50 km noord van Johannesburg en word omring deur die Magaliesberg-reeks. Sedert 2000 is Pretoria geïnkorporeer in die Tshwane-metropool.
Tshwane word nou ook voorgestel as 'n alternatiewe naam vir Pretoria. Die naam beteken in Tswana "Plek van die Swart Koei" en verwys na 'n ou reënmaakseremonie, waarin 'n swart koei en die Apiesrivier 'n groot rol gespeel het. Dié naam is later ook oorgedra na die rivier en die stad, wat hier deur Voortrekkers gestig is.
Die advertensies, wat plaaslike owerhede in buitelandse tydskrifte laat publiseer om die toerisme en beleggings in die stad te bevorder, skep nog steeds verwarring, aangesien die ou naam Pretoria nie meer gebruik word nie. In 'n onlangse staatsbeheerde televisieprogram is gestem oor hierdie aangeleentheid en het 89 persent deelnemers gestem vir die behoud van die naam Pretoria gebaseer op verskeie logiese redes.
Inhoud |
[wysig] Geskiedenis
Die eerste setlaars in die gebied van die huidige Pretoria is lede van die Nguni-stam, wat later as Ndebele (letterlik "vlugtelinge") bekend staan.
Pretoria is in 1855 deur Marthinus Pretorius, 'n Voortrekker-leier, gestig en na sy vader Andries Pretorius vernoem, wat ná sy oorwinning oor die Zoeloes in die slag van Bloedrivier as 'n volksheld vereer is. Andries Pretorius het ook 'n belangrike rol by die onderhandelinge met Groot-Brittanje gespeel, wat in 1852 met die ooreenkoms van Sandrivier tot die onafhanklikheid van Transvaal onder die nuwe naam Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) lei. Pretoria word op 1 Mei 1860 die hoofstad van die ZAR.
Tydens die Eerste Vryheidsoorlog is Pretoria tussen Desember 1880 en Maart 1881 deur Britse troepe beleër.
Die Tweede Vryheidsoorlog (1899 tot 1902) lei tot die ondergang van die ZAR en lui 'n tydperk van Britse oorheersing in Suid-Afrika in. Pretoria kapituleer op 5 Junie 1900 en word deur troepe onder die bevel van Frederick Sleigh Roberts ingeneem. Met die ondertekening van die Vredesooreenkoms van Vereeniging word die oorlog op 31 Mei 1902 in Pretoria beëindig.
Die Afrikanerrepublieke ZAR en Oranje-Vrystaat is met die Kaapkolonie en Natal in 1910 verenig in die Unie van Suid-Afrika, met Pretoria as sy administratiewe hoofstad (terwyl Kaapstad die parlementêre en wetgewende hoofstad word). In die tydperk tussen 1860 en 1994 dien Pretoria ook as die setel van die provinsiale regering van Transvaal.
Op 14 Oktober 1931 kry Pretoria amptelike stadstatus. Pretoria word ook as die akademiese hoofstad van Suid-Afrika beskou -dit is die tuiste van 'n aantal universiteite en navorsingsinstellings, onder andere die Universiteit van Pretoria, Universiteit van Suid-Afrika en die WNNR.
Vandag vorm Pretoria staatkundig deel van die Metropolitaanse Munisipaliteit van Tshwane, één van die drie onder Suid-Afrika se vyf grootste metropolitaanse gebiede wat in die provinsie Gauteng te vinde is.
[wysig] Infrastruktuur
Daar bestaan goeie toegangsroetes van Johannesburg (N1), Pietersburg/Polokwane (N1) en Witbank (N4).
[wysig] Geografie
Pretoria is 'n baie aangename en kosmopolitaanse stad, geleë in die oorgangsgebied tussen die Hoëveld- en die Bosveld-gebiede. As gevolg van sy ligging het Pretoria 'n besonder ryk voëllewe.
[wysig] Demografie
Algemene omgangstale in die Pretoria-omgewing sluit ondermeer Afrikaans, Tswana, Engels en Ndebele in. In 1991 was Pretoria naas Wynberg, 'n voorstad van Kaapstad, die sensusdistrik met die grootste getal Afrikaanssprekendes.
[wysig] Swart woongebiede
Mamelodi, wat letterlik "Plek van melodieë" beteken, is in 1953 as 'n tydelike woongebied vir 12 000 Swartes met 'n oppervlak van sowat 1 100 hektaar op die plaas Vlakfontein, noordoos van Pretoria, gestig. Aanvanklik is daar verwag dat die inwoners hulle later in plattelandse gebiede sou vestig, maar hulle het uiteindelik die voorkeur aan die Westers-Europese leefstyl van Pretoria gegee, en Mamelodi het in 1968 'n permanente Swart woongebied geword. 'n Outonome stadsraad is vir die eerste keer in 1983 gekies.
Mamelodi het ooswaarts uitgebrei en sy oppervlak meer as verdubbel.
[wysig] Ekonomiese basis
Een van die pioniers van die plaaslike yster- en staalbedryf was Cornelis F. Delfos, wat in 1916 'n hoogoond in Pretoria opgerig het. Dié bedryf was gegrond op Suid-Afrika se eie grondstowwe. Nogtans het 'n lewensvatbare nywerheid eers met die hulp van die regering tot stand gekom. Die Suid-Afrikaanse yster- en staalbedryf is as staatsbeheerde nywerheid gevestig, en die Pretoria-aanleg van die Yster- en Staalkorporasie Beperk (Yskor) is in 1930 opgerig. Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, het die aanleg se jaarlikse produksie reeds meer as 300 000 ton beloop.
Pretoria is nog steeds 'n sentrum van die Suid-Afrikaanse yster- en staalbedryf, alhoewel die stad nou ook oor 'n beduidende motor-, spoorweg- en masjienboubedryf beskik. Volgens 'n ondersoek van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom is Pretoria die derde belangrikste ekonomiese sentrum in die land na Johannesburg en Kaapstad. In 2002 is 8,55 persent van Suid-Afrika se bruto geografiese produk deur Pretoria opgelewer.
[wysig] Besienswaardighede
Pretoria is ook bekend as die Jakarandastad a.g.v. die lanings Jakarandabome langs menige strate. In die lente is die sowat 30 000 bome vol pers bloeisels - 'n prag om te aanskou. Die Ou Kerkplein is die historiese sentrum van Pretoria, wat vroeër ook 'n gewilde bymekaarkomplek vir burgers en handelaars was. 'n Aantal statige ou geboue, wat 'n belangrike rol in die geskiedenis van die stad gespeel het, en die monument ter ere van President Paul Kruger verleen 'n besonderse karakter aan die plein.
- Die Uniegebou is ontwerp deur die argitek Sir Herbert Baker.
- Die Voortrekkermonument in die suide van die stad is 'n monument ter herinnering aan die Groot trek.
[wysig] Eksterne skakels
- http://www.tshwane.gov.za - Munisipale webtuiste
- http://www.satour.co.za - S A Toerismeraad webtuiste
- 'n Kaart met foto's van baie van die besienswaardighede