Voortrekkermonument
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Voortrekkermonument is 'n belangrike baken op Monumentkoppie net buite Pretoria. Dit is in 1949 voltooi om die Groot Trek van die negentiende eeu te gedenk en word beskou as 'n belangrike gedenkteken van die Voortrekkers se moed, vasberadenheid en volharding in die stigting van die twee voormalige Boererepublieke.
Hierdie monument bestaan uit 'n 40-meter-hoë blok omring deur 'n laer van 64 graniet ossewaens. By die ingang is daar 'n beeldhouwerk van 'n Voortrekkermoeder en haar kinders. Die hoofblok het twee vertrekke. Die eerste is 'n 30 meter hoë gewelfde Heldesaal, waarvan die mure bedek is met 'n fries van 27 marmerpanele. Dit beeld die belangrikste gebeure van die Groot Trek uit. Die tweede een is die onderste saal, wat 'n granietsenotaaf bevat wat so geplaas is dat daar om twaalfuur op 16 Desember 'n sonstraal op die graftombe val. Hierdie graftombe bevat die inskrywing: “Ons vir jou, Suid-Afrika”.
Op die vier hoeke van die vierkantige monument is standbeelde van onderskeidelik Piet Retief, Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en die Onbekende Voortrekker. By die ingang staan 'n beeld van 'n Voortrekker-vrou wat haar twee kinders beskerm, geskep deur Anton van Wouw.
Vanweë die simboliek bly hierdie monument se status en rol omstrede in die hedendaagse Suid-Afrika.