Sherpa
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die woord Sherpa het aanvanklik na 'n etniese groep uit die mees bergagtige dele van Nepal, hoog in die Himalajas, verwys. In Sjina, staan hulle bekend as Xiaerba. Die Sjinese regering klassifiseer hulle egter as Tibetaans. In die afgelope paar jaar het baie Sherpas na Indië gemigreer.
[wysig] Oorspronklike gebied
Meeste Sherpas bly in die oostelike dele van Nepal bekend as Solu, Khumbu en Pharak. Party bly egter ook verder wes in die Rolwaling-vallei en in die Helambu-gebied noord van Kathmandu. Pangboche is die Sherpas se oudste dorpie in Nepal, en is na skatting meer as 300 jaar gelede gebou. Sherpas praat 'n Tibetaanse dialek en is tradisioneel handelaars en boere. Hulle verbou aartappels, gars, koring en bokwiet op hulle hooggeleë lande. Die wat binne 'n dag se loop van Namche Bazaar woon hou ook waterbuffels aan wat dan geslag word om by die Saterdagmark in Namche verkoop te word. Die Jirele is etnies verwant aan die Sherpas. In Indië, woon Sherpas ook in die dorpe Darjeeling en Kalimpong en in die Indiese staat Sikkim.
Alhoewel dit nie streng gevolg word nie, stem die name van Sherpa mans tradisioneel ooreen met die dag van die week waarop hulle gebore is:
Afrikaans | Sherpa |
---|---|
Sondag | Nima |
Maandag | Dawa |
Dinsdag | Mingma |
Woensdag | Lhakpa |
Donderdag | Phurbu |
Vrydag | Pasang |
Saterdag | Pemba |
[wysig] Sherpas en bergklim
Sherpas was van onskatbare waarde vir vroeë ontdekkers van die Himalaja-gebied, waar hulle as gidse en portiere in die uiterste hoogtes van pieke en passe in die gebied diens verrig het. Tans het gebruik van die woord uitgebrei om te verwys na byna enige gids of portier wat vir bergklim in die Himalajas gehuur word. In Nepal dring Sherpas egter daarop aan dat daar 'n onderskeid getref word tussen hulle en algemene portiers aangesien hulle baie keer 'n meer gidsagtige rol speel, meer betaal word en in hulle gemeenskap meer respek afdwing. Sherpas staan in die wêreldwye bergklimgemeenskap bekend vir hulle gehardheid, bedrewenheid, en ondervinding by hoë hoogtes. Sherpas het die reputasie verkry aangesien hulle ten spyte van die gebrek aan, vir hulle onbekostigbare, moderne kilmgereedskap wat deur westerse klimmers gebruik word, goed oor die weg kom. Daar word gespekuleer dat die Sherpas se klimvermoë deels geneties deur groter longkapasiteit bepaal word, wat hulle dan 'n voordeel gee by hoe hoogtes. Sherpas het ook minder geloofsgemotiveerde eetkundige beperkings as meeste mense van die gebied.
Geskiedkundig is die beroemdste Sherpa Tenzing Norgay, wat Everest saam met Edmund Hillary vir die eerste keer in 1953 geklim het. Tenzing het toe reeds ses keer tevore aan ekspedisies om Everest te klim, deelgeneem.
Twee Sherpas, Pemba Dorjie en Lhakpa Gelu, het onlangs gewedywer om te sien wie Everest vinniger kon uitklim. Op 23 Mei 2003 bereik Dorji die bopunt na 12 ure en 46 minute. Drie dae later breek Gelu die rekord met twee ure deur in 10 ure 46 minute tot bo te klim. Op 21 Mei 2004 verbeter Dorji die rekord weer met meer as twee ure met 'n tyd van 8 ure en 10 minute. Dit word as een van die grootste prestasies in bergklim beskou.
[wysig] Sien ook
- Nepal
- Tenzing Norgay
- Tengboche
- Sirdar
- Yeti