Wallies
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Wallies (Wallies: y Cymraeg) behoort tot die Eiland-Keltiese tak van die Keltiese tale. Wallies word deur moedertaal sprekers in die westelike deel van Brittanje bekend as Wallis (Wallies: Cymru), en in die Chubut Vallei, 'n Walliese immigrante gemeenskap in Patagonië in Argentinië, gepraat. Daar is ook sprekers in oor die hele wêreld vernaamlik in Engeland, die VSA en Australië. In 2001 is dit deur 20,5 % van die bevolking in Wallis gepraat, 'n styging van 2% sedert 1991.
Die taal moet nie verwar word met die Kymriese dialekte, die Engelse (en dus Germaanse) dialekte wat in Wallis gepraat word nie.
Die Engelse woord Welsh is verwant aan die Nederlandse woord Waals; beide beteken vreemd, buitelands.
Wallies kom vir iemand wat die taal nie ken nie as volstrek onlogies en onuitspreekbaar voor. Die Walliese grammatika en uitspraak is egter juis baie konsekwent. Die op twee na langste pleknaam ter wêreld is in Wallies: Llanfairpwllgwyngyllgogerychwyrndrobwllllantysiliogogogoch. Dit is 'n samestelling wat staan vir: die kerk van die heilige Maria in die holte van wit haselneutbome naby die draaikolk by Sint Tysilio se rooi grot.
Literêre tekste in Wallies bestaan sedert 1100. Tans is daar 'n bloeiende literatuur in Wallies.
Let wel: Hierdie bladsy bevat IFA |
Inhoud |
[wysig] Status
Die 2001 sensus het die aantal Walliese sprekers in Wallis op 20,5% ('n styging van 2% op die 18,5% in 1991), uit 'n bevolking van ongeveer 3 miljoen; dieselfde sensus dui ook aan dat 25% van die inwoners buite Wallis gebore is. Die aantal sprekers in die res van Brittanje is onseker, maar getalle is hoog in groot stede langs die grens tussen Engeland en Wallis.
Selfs onder Wallies-sprekers, is baie min inwoners van Wallis enkeltalig in Wallies. 'n Groot aantal Wallies-sprekers is egter gemakliker daarmee om hulle in Wallies uit te druk as in Engels. 'n Spreker se taalkeuse kan afhang van die konteks of onderwerp. (in linguïstiek bekend as kodeskakeling).
Alhoewel Wallies 'n minderheidstaal is en dus bedreig word deur die oorheersing van Engels, het ondersteuning vir die taal in die tweede helfte van die 20ste eeu, tesame met die opkoms van nasionalistiese politiese organisasies soos die politieke party Plaid Cymru en Cymdeithas yr Iaith Gymraeg (die Walliese taalvereniging), gegroei.
As eerste taal word Wallies veral in die meer landelike noorde en weste van Wallis aangetref, veral in Gwynedd, Denbighshire, Merioneth, Anglesey (Ynys Môn), Carmarthenshire, Noord-Pembrokeshire, Ceredigion, en dele van westelike Glamorgan. Eerstetaalsprekers en ander mense, wat die taal vlot kan praat, word egter ook elders in Wallis aangetref.
Wallies is beslis 'n lewendige taal. Dit word daagliks deur duisende sprekers as omgangstaal gebruik en Wallies is sigbaar orals in Wallis. Die Walliese Taalwet 1993 en die regering van Wallis Wet 1998 maak daarvoor voorsiening dat Wallies en Engels op gelyke voet behandel moet word. Openbare liggame word verplig om 'n Walliese taalskema voor te berei en te implementeer. Lokale owerhede en die Walliese volksraad gebruik Wallies as amptelike taal en publiseer amptelike literatuur en publisiteit in Walliese weergawes (byvoorbeeld briewe aan ouers van skole, biblioteeksinligting en stadsraadsinligting) en alle padtekens in Wallis moet in Engels en Wallies gegee word, insluitend die Walliese weergawe van plekname (alhoewel sommige onlangse vertalings van Engelse name is).
Wallies het ook 'n noemenswaardige teenwoordigheid op die Internet, maar dit leun strek na openbare liggame: die verhouding van soekenjin treftempo's vir Walliese woorde teenoor hulle Engelse ekwivalente neig na ongeveer 0.1% vir formele terme soos addysg/ondrewys, cymdeithas/samelewing of llywodraeth/regering, maar na slegs ongeveer 0.01% vir alledaagse terme soos buwch/koei, eirlaw/ysreen of cyllell/mes.
Die VK regering het die Europese verdrag vir streeks- en minderheidstale ten opsigte van Wallies bekragtig.
Die taal se belangrikheid het aansienlik gestyg sedert die daarstel van 'n televisiekanaal S4C, wat eksklusief in Wallies uitsaai, in November 1982. Die hoof-aandnuus, wat deur die BBC verskaf word, kan aangetref word by [1] (Real Media).
Gegee die Britse regering se planne (Desember 2001) om te verseker dat alle immigrante Engels magtig moet wees, sal daar gewag moet word om te sien of Wallies as 'n spesiale geval beskou gaan word. Op die oomblik is kennis van of Wallies, Engels of Scots Gaelies voldoende vir naturalisasie-doeleindes, en daar word geglo dat die beleid gehandhaaf sal word in enige veranderings in die wet.
[wysig] Geskiedenis en ontwikkeling
Die oudste bekende bronne, wat as Wallies geïdentifiseer is, dateer uit sover as die 6de eeu terug. Die taal uit hierdie tydperk word ook Vroeg-Wallies genoem. Hiervan het weinig oorgebly. Van die 9de tot die 11de eeu word Oud-Wallies gepraat. Dit was die taal van die wette van Hywel Dda, en die digkuns van beide Wallis en Skotland. Soos die Anglo-Saksiese kolonisasie van Groot-Brittanje gevorder het, is die Keltiese sprekers in Wallis geskei van dié in noordelike Engeland, wat Cumbries gepraat het en dié in die suid-weste, wat die taal gepraat het, wat tot Kornies ontwikkel het, en so veroorsaak dat die tale gedivergeer het.
Van die 12de tot die 14de eeu kan 'n mens praat van Middel-Wallies (of Cymraeg Canol), waarvan meer oorbly as uit enige ander tydperk. Dit is die taal van byna alle oorlewende vroeë manuskripte van die Mabinogion, alhoewel die verhale self beslis baie ouer is. Middel-Wallies is redelik verstaanbaar, alhoewel met 'n bietjie moeite, vir 'n moderne Wallies-spreker.
Moderne Wallies kan in twee tydperke verdeel word. Van die 14e tot die 16e eeu word 'n Vroeg-Modern-Wallies, wat deur Dafydd ap Gwilym gebruik is, en daarna 'n Laat-Modern-Wallies gepraat, wat begin met die bybelvertaling van William Morgan in 1588. Soos met die Engelse eweknie, die Koning James Weergawe, het die Bybel 'n stabiliserende involed op die taal gehad en het die hedendaagse taal nog steeds die selfde Laat Moderne etiket van Morgan se taal. Uiteraard het daar daarna nog klein veranderinge met die taal gebeur, soos altyd in lewende tale.
[wysig] Grammatika
[wysig] Fonologie
Letter(s) | IFA | Naam |
a | a | â |
b | b | bi |
c | k | ec |
ch | x | ech |
d | d | di |
dd | ð | edd |
e | ɛ | ê |
f | v | ef |
ff | f | eff |
g | g | eg |
ng | ŋ | eng |
h | h | hets |
i | ɪ | î |
l | l | el |
ll | ɬ | ell |
m | m | em |
n | n | en |
o | ɔ | ô |
p | p | pi |
ph | f | ffi, yff |
r | r | ri |
rh | r̥ | rhi |
s | s | es |
t | t | ti |
th | θ | eth |
u | ɨ, i | û |
w | ʊ | ŵ |
y | ɨ, i, ə | ŷ |
- h dui [ʰ] in mh, nh, en ngh aan.
- ph word slegs as 'n produk van aspiraat mutasie.
- y dui [ə] in eenlettergrepige woorde of nie-finale lettergrepe aan, maar [ɨ] of [i] orals anders.
- u en y word gewoonlik uitgespreek[ɨ] in Noord-Wallis en [i] in Suid-Wallis.
- si dui [ʃ] aan as dit deur 'n vokaal gevolg word.
Vokale kom ook in lang variante voor; die word baiekeer met 'n kappie aangedui.
Letter | IFA |
â | aː |
ê | eː |
î | iː |
ô | oː |
û | ɨː, iː |
ŵ | uː |
ŷ | ɨː, iː |
Wallies het ook diftonge:
Letters | IFA |
ae | a |
ai | aɪ |
au | aɪ maar in meervoud einde a, e |
aw | aʊ |
ei | əɪ |
eu | ə |
ew | ɛʊ |
ey | ə |
oe | ɔ |
oi | ɔ |
ou | ɔ |
ow | ɔ |
uw | |
wy | ʊ |
yw |
- Die uitspraak aan die linkerkant word in Noord-Wallis gebruik, die regterkantste uitspraak in Suid-Wallis.
Die volgende word net in leenwoorde gebruik:
Letter | IFA |
j | /dʒ/ |
ts | /tʃ/ |
Die klem val in gesproke Wallies amper altyd op die tweede laaste lettergreep van 'n woord; die paar uitsonderings word aangedui deur 'n akuutaksent (´), e.g. ffarwél.
'n Deelteken (¨) op 'n vokaal dui aan dat dit ten volle uitgespreek word en nie as deel van 'n diftong nie, e.g. copïo (om 'n kopie te maak) – uitgespreek [kɔˈpiːɔ], nie *[ˈkɔpjɔ] nie.
Wallies gebruik ook die grafis (dalende aksent) om vokale as kort te merk, as die vokaal normaalweg lank uitgespreek sou word, e.g. pas [paːs] n hoes', pàs [pas] n pas/permit'; mwg [muːg] 'a smoke', mẁg [mʊg] n beker' [2].
Die klemplasing kan veroorsaak dat verwante woorde en konsepte (selfs meervoude) heel verskillend kan klink, omdat lettergrepe aan die einde van die woord gelas word en die klem dienooreenkomstig skuif e.g.:
- Ysgrif — [ˈəsgriv] - 'n artikel of storie <!—or essay-->
- Ysgrifen — [əsˈgriven] – skryf
- Ysgrifeniadau — [əsgriveˈnjada] - geskrifte
- Ysgrifenedig — [əsgriveˈnedig] - geskrewe
- Ysgrifennu — [əsgriˈvenɨ] - om te skryf
- Ysgrifennydd — [əsgriˈvenɨð] - 'n sekretaris
- Ysgrifennyddes — [əsgriveˈnəðes] – 'n sekretaresse
- Ysgrifenyddion — [əsgriveˈnəðjon] – sekretarisse of sekretaresses
(Let op hoe die toevoeging van 'n lettergreep aan ysgrifennydd om ysgrifennyddes te vrom verander die uitspraak van die tweede "y". Dit is omdat die uitsprak van "y" daarvan afhang of dit die finale lettergreep is of nie.)
Die verband tussen die Walliese woord ysgrif en die Latynse woord scribo 'Ek skryf', waarvan dit afgelei is, is redelik duidelik, as diachroniese klankverskuiwing in ag geneem word.
[wysig] Morfologie
[wysig] Aanvanklike konsonant mutasie
Aanvanklike konsonant mutasie is 'n taal verskynsel wat in alle Keltiese tale aangstref word.
Die eerste letter van 'n woord in Wallies verander afhangend van die grammatikale konteks (soos wanneer die voorwerp direk op die onderwerp volg), of wanneer dit deur seker woorde, e. g. i, yn, en a voorafgegaan word. Wallies het drie mutasies: die sagte mutasie, die nasale mutasie, en die aspiratiewe mutasie:
Wortel | Sag | Nasaal | Aspiraat |
p | b | mh | ph |
b | f | m | |
t | d | nh | th |
d | dd | n | |
c | g | ngh | ch |
g | Ø* | ng | |
m | f | ||
ll | l | ||
rh | r |
'n Leë sel dui aan dat die letter nie geaffekteer word nie.
By voorbeeld, die woord vir klip is carreg, maar "die klip" is y garreg (sagte mutasie), "my klip" is fy ngharreg (nasale mutasie) en "haar klip" is ei charreg (aspiratiewe mutasie). Die voorbeelde toon gebruik in die standaard taal aan; die sagte mutasie is stadigaan besig om die nasale en aspiratiewe mutasies te vervang aangesien die meganismes waarop die mutasies gegrond is nie meer verstaan word nie. Deesdae word die aspiratiewe mutasies eintlik net uitgevoer in omgangstaal vir woorde wat met C begin en is dit in sommige gebiede heeltemal onbekend. Die nasale mutasie word tans net in twee gevalle gebruik en word ook deur die sagte mutasie vervang.
*Die sagte nutasie vir g is die eenvoudige skrap van die aanvanklike klank. Byvoorbeeld, gardd "tuin" word yr ardd "die tuin".
[wysig] Die lidwoord
Wallies het nie 'n onbepaalde lidwoord nie. Die bepaalde lidwoord, wat die woord voorafgaan wat dit verander, en gebruik verskil in die geheel baie min van Afrikaans, dit het die vorme y, yr, en 'r. Die reëls wat die gebruik bepaal is:
- As die woord met 'n vokaal begin word, yr gebruik, e.g. yr ardd.
- As die vorige woord op 'n vokaal eindig, word 'r gebruik, onafhanklik van die aard van die woord wat daarop volg, e.g. mae'r gath tu allan. Die reël kry voorkeu oor die ander twee.
- In alle ander gevalle word, y gebruik, e.g. y bachgen.
Die lidwoord gee aanleiding tot die sagte nutasie as dit saam met vroulike selfstandige naamwoorde in die enkelvoud gebruik word, e.g. tywysoges '(a) prinses' maar y dywysoges 'die prinses'.
[wysig] Selfstandige naamwoorde
Soos meeste ander Indo-Europese tale (maar nie Afrikaans en Engels nie), behoort alle selfstandige naamwoorde tot 'n grammatikale geslag. In Wallies is daar twee geslagte: manlik en vroulik. Behalwe vir selfstandige naamwoorde waarvan die geslag duidelik is uit die betekenis (b.v. mam 'moeder' is vroulik), is daar geen patroon nie en moet geslag maar saam met die woord geleer word..
In Wallies is daar twee grammatikale getalle. Daar is enkel/meervoud selfstandige naamwoorde wat ooreenkom met die enkelvoud/meervoud in Afrikaans. Meervoude is onvoorspelbaar en word op verskeie maniere gevorm. Sommige selfstandige naamwoorde word gevorm deur 'n woordeinde (gewoonlik -au), b.v.. tad en tadau. Ander vorm die meervoud deur die vokaal te verander b.v. bachgen en bechgyn. In ander gevalle word 'n kombinasie van die twee meervoudsvorme gebruik b.v. chwaer en chwiorydd.
Die ander getalstelsel is die kollektief/eenheid stelsel. Die selfstandige naamwoorde in die stelsel vorm die enkelvoud deur die woordeinde -yn (vir manlike woorde) or -en (vir vroulike woorde) in die meervoud toe te voeg. Meeste selfstandige naamwoorde wat tot die stelsel behoort word in groepe aangetref, by voorbeeld, plant 'kinders' en plentyn n kind', of coed 'woud' en coeden n boom'. In woordeboeke word die meervoud baiekeer eerste gegee.
Genitiewe verwantskappe word uitgedruk deur apposisie (naasmekaarstelling). Die genitief in Wallies word gevorm deur twee naamwoordfrases langsmekaar te plaas, die besitter tweede. So Afrikaans "Die kat se moeder", of "moeder van die kat", stem ooreen met die Wallies mam y gath — letterlik, "moeder die kat"; "die man se kar se vensters" is ffenestri car y dyn — letterlik, "vensters kar die man". In Wallies neem die ding wat besit word nooit 'n lidwoord nie.
[wysig] Byvoeglike naamwoorde
In Wallies volg byvoeglike naamwoorde gewoonlik die selfstandige naamwoord wat hulle beskryf, terwyl sommige soos hen, pob, en holl dit voorafgaan. Meeste byvoeglike naamwoorde word nie verbuig nie. Daar is egter 'n paar wat manlik/vroulik onderskeid of enkelvoud/meervoud behou. Na vroulike enkelvoud selfstandige naamwoorde ondergaan byvoeglike naamwoorde sagte mutasie.
Byvoeglike naamwoord trappe van vergelyking is redelik soortgelyk aan die Afrikaanse stelsel. Byvoeglike naamwoorde met een of twee lettergrepe kry die woordeindes -ach '-er' en -a '-est', e. g. bannog 'hoog', bannogach 'hoër', bannoga 'hoogste.' Byvoeglike naamwoord met meer as twee lettergrepe gebruik die woorde mwy 'meer' en mwya 'mees', b.v. teimladwy 'sensitief', mwy teimladwy 'meer sensitiewe', mwya teimladwy 'mees sensitiewe'. Byvoeglike naamwoorde met twee lettergrepe kan in enige van die twee rigting gaan.
Die besitlike byvoeglike naamwoorde in Wallies is:
Enkelvoud | Meervoud | ||
Eerste Persoon | fy (n) | ein | |
Tweede Persoon | dy (s) | eich | |
Derde Persoon | Manlik | ei (s) | eu |
Vroulik | ei (a) |
Die besitlike byvoeglike naamwoorde gaan die selfstandige naamwoord wat hulle beskryf vooraf, wat baiekeer gevolg word deur die ooreenkomstige vorm van die persoonlike voornaamwoord b.v. fy mara i 'my brood', dy fara di 'Jou brood', ei fara fe 'sy brood', ens.
Die demonstratiewe byvoeglike voornaamwoorde is 'ma 'hierdie' en 'na 'daardie'. Hulle volg die selfstandige naamwoord wat hulle beskryf, wat ook die lidwoord neem. By voorbeeld, y llyfr 'die boek', y llyfr 'ma 'hierdie boek', y llyfr 'na 'Daardie boek'.
[wysig] Voornaamwoorde
Die Walliese voornaamwoorde is:
Enkelvoud | Meervoud | ||
Eerste Persoon | i | ni | |
Tweede Persoon | ti, di | chi | |
Derde Persoon | Manlik | e, o | nhw |
Vroulik | hi |
[wysig] Werkwoorde
In Wallies word die meeste tydsvorme met behulp van 'n hulpwerkwoord gevorm, gewoonlik bod 'om te wees.' Dit word onreëlmatig vervoeg:
Deklaratief (Ek is) | Interrogatief (Is ek?) | Negatief (Ek is nie) | |||||
---|---|---|---|---|---|---|---|
Enkelvoud | Meervoud | Enkelvoud | Meervoud | Enkelvoud | Meervoud | ||
Teenwoordig | Eerste Persoon | dw | dyn | ydw? | ydyn? | dw | dyn |
Tweede Persoon | (r)wyt | dych | wyt? | ydych? | dwyt | dych | |
Derde Persoon | mae | maen | ydy? | ydyn? | dydy | dydyn | |
Verlede | Eerste Persoon | bues | buon | fues? | fuon? | fues | fuon |
Tweede Persoon | buest | buoch | fuest? | fuoch? | fuest | fuoch | |
Derde Persoon | buodd | buon | fuodd? | fuon? | fuodd | fuon | |
Imperfek | Eerste Persoon | roeddwn | roedden | oeddwn? | oedden? | doeddwn | doedden |
Tweede Persoon | roeddet | roeddech | oeddet? | oeddech? | doeddet | doeddech | |
Derde Persoon | roedd | roeddyn | oedd? | oeddyn? | doedd | doeddyn | |
Toekoms | Eerste Persoon | bydda | byddwn | fydda? | fyddwn? | fydda | fyddwn |
Tweede Persoon | byddi | byddwch | fyddi? | fyddwch? | fyddi | fyddwch | |
Derde Persoon | bydd | byddan | fydd? | fyddan? | fydd | fyddan |
- ddim (nie) word na die voornaamwoord gevoeg vir negatiewe vorms van bod.
- Daar is baie dialektiese variasies van die werkwoord.
- Omgangstaal imperfektydvorms is o'n i, o't ti, oedd e/hi, o'n ni, o'ch chi en o'n nhw. Dit word vir verklarende, vraende en negatiewe vorms gebruik. .
- Wallies is ongewoon in die sin dat dit geen vaste woorde vir ja en nee nie. Die relevant deel van die werkwoord bod word in plek daarvan gebruik b.v.: Ydych chi'n hoffi coffi? (Hou jy van koffie) dan volg of Dw (Ek is = Ek doen = Ja) of Dw ddim (Ek is nie = Ek doen nie = Nee)
[wysig] Voorsetsels
In Wallies verander die voorsetsel baiekeer van vorm as dit deur 'n voornaamwoord gevolg word. Dit staan as verboë voorsetsel bekend. Meeste soos dan, volg dieselfde basiese patroon:
Enkelvoud | Meervoud | ||
Eerste Persoon | dana i | danon ni | |
Tweede Persoon | danat ti | danoch chi | |
Derde Persoon | Manlik | dano fe/fo | danyn nhw |
Vroulik | dani hi |
Daar is soms dialektiese variasie veral in die eerste en tweede persoon enkelvoud vrome. In sommige plekke kan mens dano i, danot ti, of danach chi hoor.
Meeste voorsetsels veroorsaak sagte mutasie.
[wysig] Ander eienskappe van Walliese grammatika
- Besitlikes as voorwerp voorname. Die Wallies vir "Ek hou van Rhodri" is "Dw i'n hoffi Rhodri" ("I am liking Rhodri"), maar "Ek hou van hom" is "dw i'n ei hoffi fe" - letterlik, "Ek is syne houend van hom"; "Ek hou van jou" is "dw i'n dy hoffi di" ("Ek is jou houende van jou"), ens.
- Aansienlike gebruik van hulpwerkwoorde. Terwyl 'n taal soos Engels werkwoorde direk kan gebruik (e.g. I go = Ek Gaan) of met behulp van 'n hulpwerkwoord (I am going, waar to be in die geval as hulpwerkwoord gebruik word), neig Wallies sterk na die tweede gebruik. In die teenwoordigetyd word alle werkwoorde met die hulpwerkwoord bod (to be = om te wees) gebruik, so dwi'n mynd is letterlik I am going, maar beteken eenvoudig I go = Ek gaan. In die verlede tyd en toekomende tyd, is daar verboë vorms van alle werkwoorde, maar dit is algemeen om in spreektaal die werkwoordelike naamwoord (berfenw, rofweg ekwivalent met die infinitief in ander tale) saam met die verboë vorm van gwneud (om te doen) te gebruik, so Ek het gegaan kan mi es i of mi wnes i fynd wees, en Ek sal gaan kan mi á i of mi wna i fynd wees. Daar is ook 'n toekomende tyd vorm wat die hulpwerkwoord bod gebruik om fydda i'n mynd te gee (rofweg I will be going) en 'n imperfek tyd (a continuous/habitual past tense) wat ook bod gebruik, met roeddwn i'n mynd wat beteken I used to go/I was going.
- Affirmatiewe Merkers. Mi (meestal Nooord) en Fe (meestal Suid) word baiekeer voor verboë werkwoorde geplaas as dit dekleratief (verklarend) is. Dit is gewoonlik 'n omganstaal vorm en word selde in geskrewe of formele Wallies gesien. .
[wysig] Dialekte
Soos enige lewende taal het Wallies 'n aantal verskillende dialekte.
Dit is baie duidelik in die gesproke vorm en tot 'n mindere mate in die geskrewe vorm. 'n Nuttig, dog effens oorvereenvoudigde, klassifikasie in Noord-Walliese en Suid-Walliese vorms (of "Gog" en "Hwntw" gegrond op die woord vir Noord, gogledd, en die Suid-Walliese woord vir hulle daardie kant = "them over there"). Die verskil in die twee dialekte sluit woordeskat, uitspraak en grammatika in, alhoewel die verskil in laasgenoemde aspek, om die waarheid te sê, baie gering is.
'n Voorbeeld van die verskil tussen Noord- en Suid-Walliese gebruik sou die vraag "Wil jy 'n koppie tee hê?". In die Noorde sou dit tipies wees "Dach chi isio panad?", terwyl dit in die Suide meer waarskynlik "Dych chi'n moyn dishgled?" sou wees. 'n Voorbeeld van uitspraak verskil tussen die Noorde en die Suide is die geneigdheid van die Suidelike dialekte om die letter "s" met 'n slepende tong ("lispel") uit te spreek, b.v. mis, 'n maand, sou neig om as mies in die noorde uitgespreek te word en as miesj in die suide.
Die verskille tussen dialekte in moderne gesproke Wallies is egter klein in vergelyking met die tussen die gesproke en geskrewe taal. Laasgenoemde is heelwat meer formeel en is die taal van die Walliese vertaling van onder andere die Bybel, (Die Beibl Cymraeg Newydd — Nuwe Walliese Bybel — is aansienlik minder formeel as die tradisionele 1588 Bybel). Alhoewel die vraag "wil jy 'n koppie tee hê?" waarskynlik nie in geskrewe Wallies sal voorkom nie, sou dit as "a oes arnoch eisiau cwpanaid o de?", geskryf word met die gesproke vorm "Dach chi eisiau panad o de?".
Onder die eienskappe van die geskrewe taal, teenoor die gesproke taal, is groter steun op werkwoordverbuiging, 'n verskuiwing in die gebruik van sommige van die tydsvorme, 'n vermindering in uitdruklike gebruik van voornaamwoorde (aangesien die inligting gewoonlik oorgedra word in die werkwoord/voorsetsel-verbuigings) en 'n aansienlik verminderde geneigdheid om Engelse leenwoorde vir eie Walliese woorde te gebruik.
Bretons en Kornies is naby verwante tale.
[wysig] Walliese in die onderwys en opvoeding
Wallies word op groot skaal in onderwys gebruik en baie Walliese universiteite is tweetalig, vernaamlik die Universiteit van Wallis, Bangor.
Volgense die Nasionale leerplan (The National Curriculum), moet skoliere in Wallis Wallies neem tot 16-jarige ouderdom. Volgense die Walliese taalraad [3], woon meer as 'n kwart van die kinder in Wallis skole by wat oorwegend Wallies as voertaal gebruik. Die res neem Wallies as 'n tweede taal in Engelsmedium skole. Spesialis onderwysers in Wallies, genaamd Athrawon Bro ondersteun die leer van Wallies in die Nasionale leerplan.
[wysig] Eksterne skakels
- Clwb Malu Cachu, Webwerf vir Walliese leerders
- Moontlike bron vir vedrdere navorsing oor Wallies in Engels
- Die gwybodiadur (letterlik: 'informationary') bied breedvoerige inligting oor alle aspekte van die Walliese taal aan
- Wallies–Engelse Woordeboek
- http://www.cymru.ac.uk/geiriadur/ Diebepalende historiese woordeboek van Wallies: Geiriadur Prifysgol Cymru (Universiteit van Wallis Woordeboek van die Walliese taal) Onafgehandelde werk aan die Tweede Uitgawe] sluit 'n embrioniese Internet weergawe in by [4]
- Universiteit van Wallis Sentrum vir gevorderde Wallies en Keltiese Studies
- BBC LearnWelsh
- Walliese Taalkunde
- 'n Walliese kursus
- Ethnologue verslag oor Wallies
Vir woordeboekinligting, sien die bladsy Wallies op WikiWoordeboek |
Indo-Europese tale > Kentum-tale > Keltiese tale > | ||
Eiland-Keltiese tale: | Vasteland-Keltiese tale: | |
Wallies | Kornies | Bretons | Iers-Gaelies | Skots-Gaelies | Manx-Gaelies | Shelta | Cumbries | Piekties | Gallies | Leponties | Keltiberies | Galaties |