Afrikaner
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
- Hierdie artikel handel oor die groep mense. Vir inligting oor die beesras, sien Afrikanerbees.
Afrikaners | |
---|---|
Totale bevolking: | 2 700 000+ |
Belangrike bevolkings in: | Suid-Afrika, Namibië |
Taal: | Afrikaans |
Geloofsoortuiging: | Christene (Protestante) |
Verwante etniese groepe: | Kleurlinge, Rehoboth Basters, Griekwas, Nederlanders, Vlaminge, Duitsers, Franse, Skotte, Dene en ander |
Afrikaners is Suid-Afrikaners wat Afrikaans as moedertaal praat. Die afgelope eeu is die woord meesal gebruik om na blankes te verwys. Sekere eienskappe word ook tradisioneel met Afrikanerskap in verband gebring, soos christenskap, taaltrots, en 'n affiniteit met die geskiedenis van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (die sogenaamde Boererepublieke), hoewel dit nie noodwendig deel van die definisie vorm nie.
Inhoud |
[wysig] Oorsprong van die woord
Volgens oorlewering is die woord die eerste keer in 1707 deur ene Hendrick Bibault geüiter in sy uitspraak "Ik ben een afrikander!". Hy het egter bedoel dat hy "van Afrika" is en homself nie meer as 'n Europeër beskou nie. Teen die middel van die negentiende eeu word die woord egter reeds grotendeels gebruik om na blanke Afrikaans-sprekendes te verwys.
[wysig] Voorouers
Die tradisionele beskouing is dat die oorgrote meerderheid blanke Afrikaners van Duitse, Franse, en Nederlandse afkoms is, hoewel heelwat immigrante uit Brittanje en ander Europese lande binne enkele geslagte verafrikaans het en dus ook as Afrikaners gereken sou kon word.
[wysig] Afrikaners en Boere
Daar word soms na blanke Afrikaners verwys as Boere, hoewel dit in enkele kringe 'n afbrekende benaming is omdat dit deur sommige mense met Apartheid geassosieer word. Die woord Boere is 'n verwysing na die feit dat die inwoners van die Boere-republieke uit die negentiende eeu hoofsaaklik landbouers was. Die meeste blanke Afrikaans-sprekendes is egter nie meer landbouers nie en woon in stede en dorpe, waar hul kultuur baie in gemeen het met dié van Engelssprekende blanke Suid-Afrikaners.
[wysig] Afrikaners en Afrikaanses
Vanweë die assosiasie by sommige van die woord Afrikaner met Apartheid, word die woord soms afgewissel met woorde Afrikaanse, Afrikaans-spreker en Afrikaans-sprekende om na enige Afrikaans-sprekende Suid-Afrikaner (ongeag sy kleur) te verwys.
[wysig] Verwysings
- Oorspronklik materiaal vanuit die Engelse Wikipedia by Afrikaner.