Paarl
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Paarl is naas Kaapstad en Stellenbosch een van die drie oudste Europese nedersettings in Suid-Afrika. Die dorp met 75 000 inwoners lê in die provinsie Wes-Kaap, sowat 60 kilometer noordoos van Kaapstad. Paarl is die grootste dorp in die Kaapse Wynland en staan bekend vir sy roemryke geskiedenis en pragtige natuurskoon.
Met die Paarlberg beskik die dorp oor 'n geologiese besonderheid. Die reusagtige granietrots word deur drie geronde dagsome gevorm - dit is die tweede grootste granietdagsoom na die Uluru in Australië en een van die min berge in Suid-Afrika wat tot 'n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is.
[wysig] Geskiedenis
In die jaar 1657 is die fiskaal Abraham Gabbema op soek na nuwe vleisbronne vir die nedersetting aan die Kaap die Goeie Hoop, toe hy 'n reusagtige granietrots ontdek, wat na 'n reënstorm in die sonskyn blink. Hy vernoem dit Diamandt ende Peerlebergh.
In 1687, net 35 jaar nadat Jan van Riebeeck in Tafelbaaihawe voet aan wal sit, ken die destydse Kaapse goewerneur Simon van der Stel die eerste 23 plase aan die oewer van die nabygeleë Bergrivier aan vryburgers toe. Een jaar later, in 1688, ontvang ook Franse Hugenote-vlugtelinge plase in die gebied. Vyf Franse gesinne is landgoedere teen die hang van die Paarlberg toegeken: Jean Clouden op De Hoop, Gabriel le Roux op La Concorde, Isaac Taillefer op Picardie, Jean Taillefer op Laborie, en Pierre Viviers op Nantes. Die vrugbare bodem en die Mediterreense klimaat van die gebied blyk uiters geskik vir die landbou te wees. Die setlaars plant boorde, groentetuine en veral wingerde. Hierby blyk die granietgrond van die omgewing uiters geskik te wees vir die wingerdbou.
Die eerste verslae oor die Kaapse wyne, wat ook in oorsese lande vinnig gewild raak, verskyn reeds in die jaar 1711. Ingevolge Napoléon Bonaparte se seeblokkade aan die begin van die 19de eeu is Franse wyne onverkrygbaar in Engeland, en die Kaapse wynbedryf beleef 'n ongekende uitbreiding om in die Engelse mark se behoeftes te kan voorsien.
Paarl is die eerste dorp in Suid-Afrika waar 'n Afrikaanse koerant verskyn het. Di Patriot, wat aanvanklik hoofsaaklik verslag gee oor kulturele sake en tegelykertyd 'n poging doen om die Afrikaanse taal met sy eie fonetiese spelling te bevorder, word vir die erste keer op 15 Januarie 1876 uitgegee.
[wysig] Ekonomie
Die Paarl behoort tot die vernaamste wynproduserende streke in Suid-Afrika en beskik oor 'n aantal koöperatiewe wynkelders en wynlandgoedere, wat ook belangrike toeristebestemmings geword het.
Die gunstige ligging naby die nasionale pad, wat Kaapstad met Johannesburg verbind, die spoorlyn na die noordelike provinsies en die metropolitaanse gebied van Kaapstad met sy internasionale lughawe en Tafelbaaihawe het verseker dat Paarl tot een van die nywerheidsentrums in die Wes-Kaap ontwikkel het.
As die Kaapse landbouhoofstad beskik die Paarl oor voedsel- en tabakverwerkingsfabrieke.
[wysig] Besienswaardighede
Soos talle dorpe in die Kaapse Wynland, is die Paarl 'n welvarende gemeenskap met statige Kaapse huise in puik toestand, pragtige tuine en strate wat van ou eikebome omsoom word. Die Strooidakkerk in Hoofstraat is op 28 April 1805 deur die Nederduits-Gereformeerde gemeente van Paarl ingewy. Dit is die oudste kerkgebou in die land.
Die Oude Pastorie in Hoofstraat, wat in 1786 opgerig is, is een van die mooiste voorbeelde van die Kaaps-Hollandse argitektuur en huisves 'n museum met 'n versameling antieke meubels, silwer- en koperware.
Die Wamakersmuseum behandel Paarl se geskiedenis as die historiese sentrum van die wamakersbedryf in Suider-Afrika. Waens en karre is sowel vir die plaaslike mark asook vir buitelandse en oorsese bestemmings vervaardig.
Die feit dat Paarl die bakermat van die Afrikaanse taalbeweging is, maak dit besonder aantreklik. In 1869 word in die plaaslike Gimnasiumsaal, wat ook die geboortehuis van die bekende digter en Bybelvertaler J.D. du Toit (Totius) is, die eerste Afrikaanse Taalkongres gehou.
In teenstelling met die destydse regering se verengelsingbeleid word op 14 Augustus 1875 vergader agt mans in die eetkamer van die Huis Gideon Malherbe, die huidige Afrikaanse Taalmuseum, vir 'n geheime samespreking: Gideon Malherbe, 'n welgestelde boer en eienaar van die huis, Arnoldus Pannevis, die joernalis D.F. du Toit, die predikant S.J. du Toit, "Dokter" D.F. du Toit, die drukker Petrus Malherbe, C.P. Hoogenhout, 'n Nederlandse immigrant, en August Ahrbeck. Hulle word die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA).
Die Patriotgebou in Hoofstraat huisves vir enkele jare die drukkery van die GRA, asook 'n boekwinkel. Ds. S.J. du Toit, bekende leier van die GRA en redakteur van die eerste Afrikaanse nuusblad, Die Afrikaanse Patriot, bewoon die huis van 1889 tot 1904.
Vir taalkenners en belangstellendes is 'n toeristeroete ingestel. Die Afrikaanse Taalroete het Paarl en Daljosafat as sy spil, en daar is talle plase en geboue in die gebied, waarin belangrike taalstryders gewoon het. Die Afrikaanse Taalmonument teen die hange van die Paarlberg is deur Jan van Wijk ontwerp en in 1975 opgerig. Dit herinner aan die gebeure rondom die tydperk van die taalstryders.
Paarl is ook die sentrum van die Suid-Afrikaanse wynbedryf; hier is die setel van die Koöperatieve Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika (KWV), wat in 1918 gestig is. Die KWV het hier 'n aantal groot wynkelders laat oprig.
In die omgewing van Paarl lok voetslaanpaaie, die Paarlse Wynroete met die Nederburg-landgoed en uitstekende restourante. Die Laborie-landgoed naby Paarl beskik oor 'n versameling Kaap-Hollandse meubels en glasies.
Provinsie Wes-Kaap |
|
---|---|
Hoofstad: | |
Streke: |
Kaapse Skiereiland | Kaapse Wynlande | Tuinroete | Klein Karoo |
Grootste stede en dorpe: |
Kaapstad | George | Knysna | Oudtshoorn | Paarl | Robertson | Stellenbosch | Swellendam | Worcester |
Munisipaliteite: |
Beaufort-Wes | Bergrivier | Breederivier | Breederivier/Wynlande | Breedevallei | Kaap Agulhas | Sederberg | Sentraal-Karoo | Kaapstad | Drakenstein | George | Kannaland | Knysna | Laingsburg | Langeberg | Matzikama | Mosselbaai | Oudtshoorn | Overberg | Overstrand | Plettenbergbaai | Prins Albert | Saldanhabaai | Suid-Kaap | Stellenbosch | Swartland | Swellendam | Theewaterskloof | Weskus | Witzenberg | |